AGRI SECURITAS TRUSTFONDS

   
 

Soek   

 
 

TUISBLAD | AGRI SA |  ALGEMENE SAKEKAMER | BEDRYFSKAMER  | LANDBOUBESIGHEIDSKAMER | AGRI SECURITAS | KORPORATIEWE SKAKELING | SAKEVENNOTE | ANDER SKAKELS   | DOKUMENTE

 
     
 
 

 

Die landbousektor is 'n uiters waardevolle sektor in Suid-Afrika se ekonomie en onmisbaar ten opsigte van sy bydrae tot sosiale welvaart, vrede en nasionale stabiliteit.

Die hoë misdaadvlakke in die landelike gebiede, maar veral die voortslepende  plaasaanvalle- en moorde op boere, plaaswerkers en hulle gesinne, lê die stabiliserende rol wat landbou in die landelike gebied speel, ernstig aan bande. Die beveiliging van die landbougemeenskap bly steeds een van die hoogste prioriteite binne Agri SA. Die Trustfonds poog om aanvullende bydraes te maak tot die verbetering van die landbougemeenskap se veiligheid, sodat die sektor in groter veiligheid kan voortgaan om voedsel en vesel vir die land se bevolking te produseer.

Met die instelling van die Trustfonds het voormalige President Nelson Mandela sy ondersteuning daaraan gegee en die Trustfonds geniet ook die huidige President se ondersteuning. Die Trustfonds word deur 'n span kundige landbou-, sake- en openbare leiers bestuur wat die verantwoordelikheid aanvaar om die Trust se finansies te bestuur en projekte wat in aanmerking vir finansiering kom te oorweeg.

Doelstelling van die Trustfonds

Die oorhoofse doelstelling van die Agri Securitas Trustfonds is om 'n bydra tot die beveiliging van die landelike gebied te lewer en die bevordering van die landbougemeenskap se paraatheid deur:

  • Die finansiering van goedgekeurde projekte wat op grondvlak geïnisieer word in belang van die betrokke gemeenskap waardeur sodanige gemeenskap se eie veiligheid kan verbeter;

  • Die beskikbaarstelling van inligting waardeur eie paraatheid en huis- en haard beskerming bevorder kan word;

  • Bydraes te maak tot goedgekeurde trustfondse wat daargestel is om na die finansiële behoeftes van kinders wat wees gelaat is na 'n plaasaanval om te sien.

Belangrikheid van landbou in SA en Afrika

Suid-Afrika beslaan nagenoeg 3.8% van die oppervlakte van Afrika en slegs 14% van die totale oppervlakte van Suid-Afrika is bewerkbare landbougrond. Nieteenstaande die beperkte oppervlakte bewerkbare landbougrond produseer die Suid-Afrikaanse boer 25% van mielies en 13% van die koring wat in Afrika geproduseer word. In die Suider-Afrikaanse Ontwikkelings Gemeenskap (SAOG)-streek produseer Suid-Afrika 58% van die mielies en 87% van die koring.

Die totale graanproduksie van Suid-Afrika verteenwoordig nagenoeg 61,2% van die produksie in Suider-Afrika en die totale rooi- en witvleisproduksie in Suid-Afrika verteenwoordig nagenoeg 66.6% van die produksie in Suider-Afrika. Verder is Suid-Afrika ook die voorste produseerder van suiker, melk en vars vrugte in Suider-Afrika.

In die totale prentjie van landbouproduksie in die wêreld en in Afrika is Suid-Afrika 'n uitsondering by uitnemendheid.

Nieteenstaande die veiligheidsbedreiging wat die Suid-Afrikaanse boer daagliks in die gesig staar, beny die ganse Afrika, asook die res van die wêreld die Suid-Afrikaanse boer sy kundigheid op landbougebied wat steeds sorg dat daar nie 'n tekort aan voedsel bestaan in ons land, en in vele buurstate nie. 

Kontakbesonderhede:

Kobus Visser

Posbus 1508 Pretoria    0001   Telefoon    : +27 (0) 12 322 6980 Faks          :  +27 (0) 12 320 0557  

Trust se registrasienommer: 6461/01

Die Trustfonds se vennote 

Erkenning word aan die volgende maatskappye gegee vir hulle maandelikse finansiële bydraes tot die trustfonds:

klik logo's vir meer :

 

 
 

NISSAN SA

SMARTCOM

CRISISONCALL

 

Aktiwiteite

 Sportaand - klik hier

PROJEKTE GEFINANSIER DEUR DIE TRUSTFONDS:

NASIONALE PROJEKTE

Evaluering van die Landelike Beveiligingsplan
 

Die Landelike Beveiligingsplan is ontwikkel om alle rolspelers by landelike veiligheid aan te moedig om op ´n gekoördineerde wyse saam te werk en betrokke te raak by gemeenskaplike beplanning, aksies en die monitering van misdaad in die landelike gebiede. Die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) het navorsing gedoen om vas te stel hoe doeltreffend die Landelike Beveiligingsplan is en om beter begrip vir die aard van misdaad op plase en kleinhoewes te verkry.

   

Profielondersoek van veroordeelde misdadigers

Technikon RSA het vroeër ondersoek ingestel na die profiel van ´n misdadiger wat by plaasaanvalle betrokke is en reeds gevonnis is. Die span het 48 veroordeelde misdadigers in gevangenisse besoek. Hulle is uitgevra na hul motiewe waarom  hulle by aanvalle betrokke geraak het en hoekom slagoffers met soveel geweld vermoor is, nadat die misdadiger reeds in sy doelwit geslaag het. Die ondersoek is gedurende 2001 afgehandel.


Aksie Stop Plaasaanvalle

’n Landswye petisie-aksie wat die regering oproep tot daadwerklike optrede om plaasaanvalle te stop, is op 31 Mei 2000 geloods. Die uiteindelike oogmerk van die petisieveldtog is om plaasaanvalle te bekamp en te verhoed met die klem op die mobilisering van die publiek van Suid-Afrika. Voorts is die doel ook om maksimum druk binnelands en buitelands te genereer, sodat die regering ’n meer daadwerklike poging sal aanwend en middele daar sal stel om plaasaanvalle te voorkom. ’n Verdere belangrike oogmerk was om die landelike gemeenskap - veral plaasmense - opnuut op te skerp tot paraatheid.

Ondersoek na die strafregstelsel

Die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) het op versoek van Agri SA ‘n ondersoek van stapel geloods namens die Nasionale Wet-en-Orde Komitee om die leemtes in die strafregstelsel te bepaal en vas te stel hoekom bestaande strawwe nie ´n afskrikmiddel vir plaasaanvallers is nie. Die doel hiervan is ook om misdaadtendense en demografiese inligting te ontleed, sodat toekomstige brandpunte bepaal kan word ten einde pro-aktief te kan optree. Daar is ook die  ondersoek ingestel na die toepassing van die doodstraf vir sekere geweldsmisdade.

SAPD Veiligheidsbrosjure

As deel van die NOKOK se kommunikasie-strategie oor die Landelike Beveiligingsplan en die bevordering van landelike veiligheid het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ‘n veiligheidsbrosjure saamgestel wat landswyd aan boere versprei word. Die brosjures bevat kerngedagtes oor landelike veiligheid en word in Afrikaans, Engels en verskeie swart tale beskikbaar gestel.

 

 



Opleiding in gevegsaanduidings

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het landswyd opleidingseminare - gefasiliteer deur Lukas Swart - aangebied om die boeregemeenskap toe te rus met relevante informasie om plaasaanvalle te antisipeer en te hanteer. Gevegsaanduidings is die riglyne wat kriminele volg om hul taak uit te voer. By plaasaanvalle was die gevegsaanduidings vooraf sigbaar. Dit beteken dat, as ‘n persoon toe reeds hierdie inligting gehad het, sou baie van die plaasaanvalle voorkom kon gewees het. Die Trustfonds het ‘n finansiële bydrae tot die opleidingseminare gemaak, wat beteken dat die inligting en kennis wat oorgedra word, kan help om verskeie plaasaanvalle te voorkom. 

Gedenknaald ter nagedagtenis aan boere wat tydens plaasaanvalle vermoor is
 

’n Gedenknaald ter nagedagtenis aan boere, en hulle gesinne wat tydens plaasaanvalle vermoor is, is op die Graan SA Oesplaas-terrein, buite Bothaville opgerig. Die gedenknaald bestaan uit nege suile wat elk van die nege provinsies van Suid-Afrika uitbeeld. Die name van afgestorwenes in elke provinsie word op die betrokke provinsie se suil aangebring. Die gedenknaald is die enigste van sy soort en is ’n unieke manier waarop hulde aan afgestorwe boere en hulle gesinne gebring kan word. Die Trustfonds het ’n bydrae tot die oprigting van die bronsbeeld by die gedenknaald gemaak.
 

 


Finansiering van georganiseerde landbou se veiligheidskomitees

Die doeltreffende landswye koordinering van veiligheid en die landswye implementering en bestuur van die Landelike Beveiligingsplan waarvan Agri SA deel is - gesien teen die agtergrond van die onaanvaarbaar hoë vlakke van plaasaanvalle - vereis insette en deelname van alle verteenwoordigers uit die nege provinsies. Al die rolspelers binne die groter Agri SA-familie behoort saam te beplan en te koördineer om ‘n verskil te maak aan die veiligheidsituasie op plase. Die Trustfonds het hierdie doelwit ondersteun deur ´n bydrae te maak tot Agri SA se Nasionale- en nege Provinsiale Veiligheidskomitees om hulle in staat te stel om effektief hulle funksies en rol binne die Landelike Beveiligingsplan te vervul.


Traumawerkswinkels

Reformanda Beradingsdiens, gesetel in Potchefstroom, het ‘n program ontwikkel met die doel om hulp aan slagoffers van plaasaanvalle te bied in die vorm van trauma-berading. Die berading is daarop gefokus om die slagoffer te help om die trauma wat met ‘n plaasaanval gepaardgaan te hanteer en te verwerk. Die program konsentreer ook daarop om persone op te lei om ander slagoffers in die gemeenskap by te staan. Die opleiding word verder ook gebruik om predikante, maatskaplike werkers en polisiebeamptes op te lei wat gewoonlik eerste kontak  met die slagoffers het, sodat onmiddellik met berading begin kan word. Die Trustfonds het ‘n bydrae gemaak tot die koste van die werkswinkels om dit vir die Universiteit moontlik te maak om met die werk voort te gaan.

PROVINSIALE PROJEKTE

KWAZULU-NATAL

Kwanalu: Veiligheidslessenaar

Kwanalu, ‘n affiliasie van Agri SA, het gedurende Mei 1998 ‘n veiligheidslessenaar op die been gebring om onder andere te help met die implementering en monitering van die Landelike Beveiligingsplan in KwaZulu-Natal. Die veiligheid van die totale landelike gemeenskap bly een van die prioriteite van Kwanalu en word daar omgesien na die behoeftes van lede sowel as nie-lede.  Die veiligheidslessenaar is verantwoordelik aan die Raad van Direkteure van Kwanalu en funksioneer onder die bestuur van die Uitvoerende Hoof van Kwanalu.


Radionetwerk: Nottingham Road

Die Loteni-Inzinga Boerevereniging naby Nottingham Road het deurgeloop onder verskeie misdade soos moord, huisbraak, diefstal, veediefstal en voertuigkapings. Die boerevereniging het ‘n polisieforum op die been gebring wat maandeliks vergader en patrollies en padblokkades word in samewerking met die polisie gehou.
Die grootste probleem wat deur die boerevereniging ervaar word, is swak kommunikasie. Selfoonontvangs bestaan nie in die heuwelagtige omgewing nie en telefone is gereeld buite werking. Die Trustfonds het ‘n bydrae tot die installering van ‘n radionetwerk gemaak om die veiligheid van die gemeenskap in die gebied te kan bevorder.


WES-KAAP

Finansiële bystand vir radio-kommunikasie

Die Breërivier Distrikslandbouvereniging, Worcester Kommando en die onderskeie plaaswagte in die gebied, het die Trustfonds genader om ‘n finansiële bydrae te maak tot die implementering van ‘n radio-stelsel wat tot voordeel van alle rolspelers sal strek. Daar was geen radiokommunikasie tussen die plaaswagte en die kommando gedurende operasies van die Landelike Beveiligingsplan nie. Die kommando’s opereer op hoë band frekwensie wat dit onmoontlik maak om met die kommando’s te kan kommunikeer. Die Trustfonds het ‘n finansiële bydae gemaak tot die hardeware waardeur ‘n skakel tussen die hoë- en midband radio’s bewerkstellig sal word, wat die breë gemeenskap tot voordeel sal strek en
veiligheidskommunikasie sal bevorder.

Swellendam Distrikslandbouvereninging: Plaaswagborde

Swellendam Distrikslandbouvereniging (DLV) het in hul distrik tien plaaswagborde opgerig om landelike veiligheid te bevorder. Die doel van die borde is om die gebied van ‘n nommerstelsel te voorsien waardeur reaksietye verkort kan word. ‘n Finansiële bydrae is gemaak vir die aankoop van die borde.

Riversdal Landelike Beveiliging: Radio's

Riversdal Landelike Beveiliging beskik oor nagenoeg 500 lede en bedien ’n oppervlakte van 3 600 vk kilometer waarin die plaaswag ’n aktiewe rol speel deur patrollies te ry. Daar vind ook gereelde skakeling met die SAPD en kommando’s plaas. Die Trustfonds het ’n aantal radio’s aan Riversdal Landelike Beveiliging geskenk wat deur die plaaswag gebruik sal word tydens optredes. Hierdie radio’s behoort die kommunikasievermoë van die plaaswag aansienlik te verbeter en by te dra tot die effektiewe bekamping van misdaad in die gebied.

Malmesbury: Radio-kommunikasie

Die Swartland Kommando in die Malmesbury omgewing het geen kommunikasievermoë gehad om tydens patrollies en opvolgaksies met die plaaslike boere asook die kommando’s en SAPD te skakel nie. Die Trustfonds het radio’s aan die plaaswag beskikbaar gestel om sy bevel- en beheervermoë asook kommunikasie te verbeter en effektiewe koördinering teweeg te bring.

Vredendal: Inligtingstuk oor veiligheid 

’n Inligtingstuk is deur die kommando en plaaswag saamgestel om die beginsels van landelike beveiliging in ’n enkele dokument saam te vat. Die inligting is reeds binne die landelike beveiligingsopset beproef en kan effektief op grondvlak toegepas word. Die volgende aspekte word onder andere in die inligtingstuk bespreek waartoe die Trustfonds ´n bydrae gemaak het:

  • voordele van landelike beveiliging;
  • beginsels van landelike beveiliging;
  • plaasbeskermingsmaatreëls;
  • gebeurlikheidsbeplanning; en
  • gebiedsbeskerming.

 

Veiligheidsbrosjure
 

Die Area Landelike Beveiligingskomitee van die Wes-Kaap het ‘n veiligheidsbrosjure  saamgestel met veiligheidswenke, regsaspekte en wenke vir huis en haard beskerming. Hierdie brosjure is deur die SA Vloot gedruk en die koste daarvan is deur die SANW gedra. 'n Oplaag van 4 000 kopieë van die brosjure is in die Wes-Kaap aan die landelike gemeenskap versprei. ‘n Groot behoefte het ontstaan om ‘n verdere 6000 van die brosjures te druk vir verspreiding in die Wes-Kaap. Die Trustfonds het ´n finansiële bydrae gemaak tot die druk van hierdie brosjures.

 



GPS-stelsel

Agri Wes-Kaap, wat boere binne die provinsie op provinsiale vlak en by Agri SA verteenwoordig, is deur sy grondvlakstrukture aktief betrokke by die implementering van die Landelike Beveiligingsplan en dien ook op provinsiale vlak in die POKOK. Agri Wes-Kaap het by die Trustfonds se Raad van Trustees aansoek gedoen om fondse vir die aankoop van ´n Globale Posisionerings Stelsel (GPS) wat hulle aan die kommando's in die Wes-Kaap beskikbaar wil stel. Die idee is om alle plaaswonings se lengte- en breedtegrade vas te stel en dit op die GPS-stelsel via rekenaar te plot. Die voordele van ´n gekarteerde gebied is dat dit reaksietye aansienlik verkort in ´n noodgeval; die kommando presies weet waar alle bewoonde plaashuise in sy gebied is en dit bevorder ook die beheer van gebeurlikhede soos die monitering van alarms. Die Raad van Trustees het die stelsel gefinansier.

Swellendam: Plaaswag radio-stelsel 

Die Swellendam Distrikslandbouvereniging het aansoek om fondse gedoen vir ‘n radio-stelsel wat hulle in die plaaswag-koördineerder se voertuig wil installeer. Die koördineerder beskik nie oor ‘n radio vir sy voertuig om die koördineringwerk van die ses plaaswagte in die Swellendam- en Buffelsjagriviergebied te doen nie. Die radio sal die Swellendam Distrikslandbouvereniging se eiendom bly en sodra ‘n ander koördineerder aangestel word, sal die radio verskuif word na die nuwe
koördineerder se voertuig.

VRYSTAAT

Reitz: Riemland Beheer

Plaasveiligheid bly een van Riemland Beheer se grootste prioriteite. Met die tegnologie wat reeds by die sentrum tot stand gebring is, is die sentrum goed geposisioneer om ‘n daadwerklike bydrae te lewer om verskillende dissiplines te aktiveer wanneer ‘n insident plaasvind. Ten einde die omvang van aktiwiteite te kan akkommodeer, moes die sentrum in rekenaar- en radio-toerusting belê. Reaksie op noodoproepe kan vergemaklik en bespoedig word as alle lede by  Riemland Beheer registreer ten einde die databasis op rekenaar op datum te hou.  Riemland Beheersentrum is die CCC-sentrum vir die totale Oos-Vrystaat wat optrede deur die Verkeersdepartement, SAPD, Brandweer en Nooddienste koördineer vir enige gebeurlikheid waar die dienste benodig word. Alle betrokkenes wie se hulp op ‘n ongelukstoneel of dreigende ramptonele, insluitend plaasaanvalle in die Oos-Vrystaat, benodig word, word nou van Riemland Beheer in Reitz ontplooi en gekoördineer. Met die uitbou van die beheerkamer by Vrystaat Koöperasie, kan nooddienste en hulp binne drie minute na ‘n toneel gestuur word. Die Trustfonds het ‘n bydrae gemaak tot die finansiering van die rekenaar- en radio-toerusting wat benodig is.

Beheersentrums: Senekal en Zastron

Beide die distrikte het beheersentrums binne veiligheidsverenigingsverband in elke distrik op die been gebring. Die beheersentrums sal verantwoordelik wees om die Landelike Beveiligingsplan binne die betrokke distrik te dryf en te monitor. Die plan sluit die koordinering van alle veiligheidsverwante aspekte soos persoonlike paraatheid, huis- en haard beskerming en fisiese beveiliging in. Die veiligheidsplan is vir elke betrokke distrik ontwikkel en gesamentlik onderteken deur die SANW, SAPD en georganiseerde landbou. Elke boer wat by die veiligheidsvereniging aansluit, word op die plaas besoek, die inhoud van ´n veiligheidsbundel met wenke word volledig toegelig, ´n evaluasie van die woning word gedoen om te bepaal of dit aan die minimum sekerheidsvereistes voldoen en praktiese aksies en aanbevelings word aan die boer gedoen. Opvolgbesoeke word deurentyd beplan waartydens elke boer se eie verbeterings deurlopend deur die Weermag geëvalueer word.Die fondse wat deur die Trustfonds goedgekeur is, word hoofsaaklik aangewend vir die volgende: oprigting van ´n herhaler en versterker; oprigting van antennas; opgradering van sagteware en konsole radio's.

Bethlehem: Landelike Beheersentrum

Die sentrum is op 23 Maart 1998 bekendgestel en word tans met ledegeld- inkomste gefinansier. Hierdie sentrum werk nou saam met die SAPD en plaaslike kommando’s vir vinnige optrede in enige gebeurlikheid. Die SAPD het selfs lede afgedeel na die sentrum vir enige voorval. Die sentrum bied die volgende dienste aan boere en lede:

  • Bedien die NEAR radio-netwerk in die gebied.

  • Monitor die nasionale roepkanaal asook die 29-MHZ-Brug-B radio.

  • Monitor telefoon noodnommers vir moontlike optrede.

  • Stoor lede-inligting op rekenaar vir vinnige reaksie.

Die mees effekiewe wyse om die kommunikasie probleem in die gebied te oorkom, is om ‘n herleistasie op te rig wat die nodige verbinding teen ‘n bekostigbare prys aan die boer sal bied. Lede van die SAPD en die kommando besoek boere, plaaswerkers asook plaasskole gereeld vanuit hierdie sentrum. Die Trustfonds het ‘n bydrae gemaak tot die finansiering van die herhaler om kommunikasie te verbeter.

Frankfort Landbou: Noodfonds

Tydens ‘n plaasaanval op 22 Junie 2001 in die Frankfort-distrik, is mnr Ben du Plessis vyf keer geskiet en later in ‘n ernstige toestand in die intensiewe sorgeenheid van die Hoogland Kliniek in Bethlehem opgeneem.  Hy is oor ‘n periode van twee dae gestabiliseer.  Frankfort Landbou het ‘n noodfonds by ABSA Bank in Frankfort gestig om fondse in te samel om voorsiening te maak vir mnr Du Plessis se mediese uitgawes, aangesien sy toestand in die stadium glad nie bevredigend was nie. Die boerevereniging het ‘n bydrae gevra om sy mediese uitgawes gedurende dié tyd te dek.  Die Trustfonds het ‘n finansiële bydrae tot die noodfonds gemaak. Weens finansiële probleme het sy bestaande mediese fonds verval, aangesien hy nie die premies kon betaal nie en dus oor geen mediese dekking beskik het om die mediese uitgawes te betaal nie. Dit het daartoe gelei dat hy uit die intensiewe sorgeenheid ontslaan is en oorgeplaas is na die Riemland Kliniek op Frankfort. Mnr Du Plessis en sy drie seuns is almal lede van georganiseerde landbou.

Noodrapporteersentrum bevorder paraatheid

Die noodrapporteersentrum in Kroonstad stel dit ten doel om ‘n totale streeknoodplan daar te stel met ‘n onderbou bestaande uit alle noodplanne binne die streek. Verder poog die sentrum om die totale gemeenskap, privaatsektor en owerhede te betrek om sodoende ‘n parate gemeenskap daar te stel deur gebruik te maak van die fasiliteite by die noodrapporteersentrum.

Die hele gebied word deur sel- en telefone bedien. Deur gebruik te maak van die spoedskakel-fasiliteit (speed dial) en paniekskakelaar op landlyntelefone, kan die kliënt deur slegs een knoppie te druk kontak met die sentrum maak. Alle persoonlike besonderhede word op ‘n rekenaar vasgelê. Die kliënt identifiseer ook self alle rolspelers en belangegroepe wat hom tydens nood moet bystaan. Die SAPD en SANW vorm ‘n integrale deel van die sentrum se aktiwiteite. Die fondse wat die Trustfonds bewillig het, sal aangewend word om toerusting aan te koop om die effektiwiteit van die sentrum te bevorder.


Fondse vir Senekal: Veiligheidsbeheerkamer 

Agri Securitas Trustfonds het 'n tjek ten bedrae van R35 232.84 aan Senekal Landbou oorhandig. Die fondse sal aangewend word om die beheerkamer op 'n effektiewe wyse te bedryf. Senekal Landbou Veiligheidsvereniging is sowat twee jaar terug gestig en het tans sowat 80 lede. Veral veiligheidsituasies in en om die huis word gereeld gemonitor en aangespreek. Om lid te word, skakel die sekretaris van die veiligheidsvereniging, Tinus Oosthuizen by 083 453 9324. Verskeie bekostigbare lidmaatskap opsies is beskikbaar. Dirk Bothma van RTS Senekal het die kwotasie gekry om die projek ten uitvoere te bring en sluit in die daarstelling van 'n herhalerstasie asook die verbetering van die kommunbikasie sisteem. Sodra die herhaler in werking is sal 'n baie wyer gebied dekking ontvang en sal selfs persone van Marquad, Clocolan en Ficksburg kan aansluit.
 

Van Links na regs:
Tinus Oosthuizen, die sekretaris: Rikkie Prinsloo, Senekal Landbou se woordvoerder oor veiligheid; Borrie Erasmus, Lid van die Veiligheidskomitee van Vrystaat Landbou, Jan Jacobz, die voorsitter van Senekal Landbou; Luit. Kol CT Saayman die bevelvoerder van Senekal Kommando asook voorsitter van Senekal Landbou Veiligheidsvereniging en Dirk Bothma van RTS.


OOS-KAAP

Post Retief Boerevereninging: Toegangsbeheerprojek 

Die Post Retief-bewaringsarea beslaan nagenoeg 100 000 ha en sluit nagenoeg 4 000 persone in die gebied in. Die boerevereniging pas toegangsbeheer deur middel van drie valhekke in die gebied toe. Waghuisies is reeds opgerig deur lede van die bewaringsarea. ´n Behoefte aan finansiële bystand bestaan vir die verskaffing van beligting, padtekens, elektriese werk en die oprigting van valhekke. Die Raad van Trustees het ‘n bedrag bewillig vir die daarstel van die bewaringsarea. Volgens Agri Oos-Kaap kom geen misdaad in die gebied meer voor nie.

Gekodefiseerde naamborde in die Uitenhage-, Wolfontein- en Keimond gebiede

Reaksietyd is van groot belang tydens enige vorm van optrede hetsy dit veldbrande, vloede of  plaasaanvalle is. Deur die verskaffing van gekodifiseerde naamborde in die Uitenhage-, Wolfontein- en Keimond-gebiede is plase gekodifiseer en genommer volgens ´n kaart in die Operasionele Kamer van die SAPD en kommondo's. Plase wat van die borde voorsien is en wat in nood verkeer, sal voortaan makliker geïdentifiseer word met die gevolg dat reaksietye verkort sal word.

Winterberg-bavaria: Elektriese valhekke 
 

Twee elektriese valhekke, teen ‘n koste van R180 000, is deur die Winterberg Boerevereniging opgerig wat toegangsbeheer in die gebied toepas. Die oppervlakte wat deur die valhekke gediens word, is ongeveer 86 000 ha en sluit 25 boere in met ongeveer 1 000 persone wat in die gebied werk en woonagtig is. Dit is nie net die boerderygemeenskap wat uit die valhekke voordeel sal trek nie, maar ook plaaswerkers en hulle afhanklikes. Die inligting wat deur ‘n kamera in die valhek ingesamel word, word in ‘n rekenaar gestoor en is deurlopend tot die SAPD se beskikking. Verkeersvloei in die gebied het met 45% afgeneem.

 

Die doel van die valhekke is om voertuigbeheer in en uit die gebied op ‘n 24-uur basis toe te pas. Die valhekke word elektronies beheer deur middel van ‘n monitering- en videokamerastelsel. Die SAPD verwelkom die inisiatief en het ook toegang tot die videomateriaal, indien hulle dit sou benodig vir ondersoekwerk. Die oprigting van die valhekke is goedgekeur deur mnr D Neer, die LUR vir Veiligheid in die Oos-Kaap. Die versoek is ondersteun deur Agri Oos-Kaap.
 

Veiligheidsbrosjure
 

 

Agri Oos-Kaap, in samewerking met die SAPD en die SANW se Gesamentlike Streekstaakmag Suid, het ‘n veiligheids-brosjure ontwikkel wat in die Oos-Kaap onder die landelike gemeenskap versprei word. Hierdie brosjure bevat inligting rakende huis- en haardbeskerming, handige wenke om plaasaanvalle te voorkom en noodnommers wat geskakel kan word vir vinnig reaksie. Die doel met dié brosjure is om pro-aktief en voorkomend op te tree deur die landelike gemeenskap in te lig rakende aspekte wat in ag geneem behoort te word om hulle eie veiligheid in stand te hou. Die Agri Securitas Trustfonds het die samestelling en druk van hierdie brosjure finansieël ondersteun.

 


Baviaans Bavaria: Valhekstelsel 

Die Baviaans-bewaringsarea val onder die bestuur van die Bedford Boerevereniging. Die bavaria het reeds drie valhekke op die Baviaansrivierpad tussen Bedford en Tarkastad opgerig wat goed funksioneer. Die hoeveelheid verkeer deur die area het reeds met sowat 30% gedaal met ‘n positiewe effek op die bekamping van veediefstal en die onwettige jag van wild. Verskeie ander misdade kom in die gebied voor en die pad tussen die Transkei en Port Elizabeth is bekend as die “dagga run”. Die bavaria dek ‘n oppervlakte van sowat 90 000ha en bestaan uit 27 lede. Nagenoeg 200 plaaswerkers en hulle gesinne vorm deel van die bewaringsarea. Die Trustfonds het finansieël bygedra tot die daarstel van die bavaria. Volgens Agri Oos-Kaap kom geen misdaad in die gebied meer voor nie.

Finansiële bystand

Mnr en mev JP Jordaan van die plaas Pendery in die Burgersdorp-distrik is op 2 Desember 2000 om ongeveer 06:45 deur ‘n onbekende swartman buite hulle plaaswoning met ‘n graaf en sekel aangeval. Mnr en mev Jordaan is onderskeidelik 76 en 69 jaar oud, pensioenarisse en getroue meelewende lede van Agri Oos-Kaap. Tydens die aanval het die egpaar ernstige hoof- en gesigsbeserings opgedoen en moes mediese aandag kry. Die egpaar is behoeftig en kon geen mediese fonds premies bekostig nie en het ook nie beskik oor die finansiële middele om die mediese uitgawes wat tydens die aanval opgedoen is, te dek nie. Sekere items, soos hul brille, wat gedurende die aanval beskadig is, is deur versekering gedk, maar die koste vir konsultasies, medikasie en tandheelkundige dienste wat dringend nodig was, kon nie bekostig word nie. ‘n Finansiële bydrae is tot die mediese uitgawes van die egpaar gemaak.

Adelaide Landbouvereniging: Toegangsbeheer 

Die Adelaide Landbouvereniging het ‘n bewaringsgebied wat 140 000ha insluit gestig. Die hoofdoel met die bavaria is om toegangsbeheer tot die gebied te verkry en daardeur op ‘n pro-aktiewe wyse die veiligheid van plaasbewoners, insluitende plaaswerkers, te verseker. Met die toegangsbeheer sal verder gepoog word om vee- en wilddiefstal aan bande te lê, asook die diefstal van voertuie. Die Trustfonds het ´n bydrae gemaak tot die daarstelling van die infrastruktuur om die gebied te beveilig.

Hilton-bewaringsgebied: Valhekke

Die Hilton-bewaringsgebied beslaan ‘n oppervlakte van nagenoeg 90 000 ha, wat strek vanaf Queenstown suidwaarts tot by Cathcart langs die Ciskei-grens. Die rede vir die totstandkoming van die gebied was dat die landbougemeenskap geteister is met ‘n hoë voorkoms van veediefstal, rowe, plaasaanvalle en onwettige jag. Sedert die ontstaan van die bavaria in November 1994 het die diefstal van byvoorbeeld skape gedaal tot minder as 30 per jaar.

Die bavaria word bedryf in noue samewerking met die plaaslike polisie en die weermag. Verskeie lede van die bavaria is polisiereserviste en kommando-lede. Huidiglik word twee valhekke reeds bedryf en die oprigting van ‘n verdere vyf word beplan. Die inbedryfstelling van die bavaria en valhekke geniet die totale gemeenskap se goedkeuring - 'n besluit wat in September 2002 in Queenstown deur die gemeenskap geneem is. Die oprigting van die valhekke is ook deur Bisho goedgekeur wat die bedryf daarvan wettig maak.

Die Trustfonds het ‘n bydrae gemaak tot die gedeeltelike finansiering van die valhekke.

Tylden Bewaringsgebied: Valhekke

 

Die Tylden Bewaringsgebied beslaan ‘n oppervlakte van 20 000 ha en is aangrensend aan die Hilton Bewaringsgebied. Die rede vir die totstandkoming van die gebied was dat die landbougemeenskap geteister is met ‘n hoë voorkoms van veediefstal, rowe, plaasaanvalle en onwettige jag. Die gemeenskap verwag dat die beplande valhekke 'n betekenisvolle verbetering teweeg sal bring aan die misdaadsituasie in dié gebied. Veertien boere en hulle plaaswerkers asook die Goshen- gemeenskap is by die ewaringsgebied betrokke.

Daar word drie valhekke vir die gebied beplan. Die valhekke sal opgerig word op die Whittlesen/Raglan-pad, die Waqu/Tylden-pad en die Tylden/Queenstown-pad. Die inbedryfstelling van die bavaria en valhekke geniet die totale gemeenskap se goedkeuring wat tydens ‘n besluit in September 2002 in Queenstown deur die gemeenskap geneem is. Die oprigting van die valhekke is ook deur Bisho goedgekeur wat die bedryf daarvan wettig maak. Die Trustfonds het ‘n bydrae gemaak tot die gedeeltelike finansiering van die valhekke.

Jansenville: Valhekke vir veiligheid

Die Trustfonds het fondse bewillig vir die oprigting van valhekke in die Jansenville en Samekomst gebiede. Die oppervlakte wat deur die oprigting van die valhekke gemonitor sal word, beslaan 145 000ha waar 93 grondeienaars en 425 plaaswerkers en hulle gesinne woonagtig is. Die motivering vir die oprigting van die valhekke is om toegangsbeheer te monitor en daardeur die misdaadsituasie in die gebiede aan te spreek tot voordeel van die gemeenskap. Met die valhekke sal verder gepoog word om vee- en voertuigdiefstal te bekamp en onwettige jag te voorkom. Beide die valhekke geniet die totale gemeenskap se ondersteuning en is goedgekeur deur die LUR vir Provinsiale Veiligheid in die Oos-Kaap provinsie.

MPUMALANGA

Witrivier: Plaasnommerborde


Die Witrivier-distrik was een van die distrikte wat die swaarste getref was deur plaasaanvalle in die land. Die probleem is ´n bron van kommer vir die boere, daarom het hulle in samewerking met die SAPD en kommando begin om al die plase en kleinhoewes in die distrik te nommer volgens ´n kodestelsel waardeur die reaksievermoë van veiligheidsmagte verkort kan word. Boere in die distrik werk nou saam met die kommando en verskeie plaaspeletons bestaan reeds en plaaspatrollies word gereeld gery. Aan die oostelike grens, grens die distrikte aan ´n informele gebied vanwaar verskeie plaasaanvalle in die verlede geloods is. Die Trustfonds het ‘n bedrag bewillig vir die aankoop van die borde.

Schagen Veiligheid

Schagen Veiligheid is op 24 Augustus 1998 in die Nelspruit-omgewing gestig as gevolg van die stygende misdaad in die land en die groeiende tendens van plaasaanvalle in die gebied. ‘n Beheerkamer is gestig en beskik oor die persoonlike besonderhede van al die inwoners asook kaarte waarop onder meer toegangsroetes en die ligging van woonhuise aangedui word. Die hoofdoel is om die hele gebied te beveilig vir al die inwoners, hetsy werkgewers of werknemers. Die Trustfonds het ´n geldelike bydrae gemaak tot die aankoop van koeëlvaste- en weerkaatsbaadjies, waarskuwingsborde, soekligte en die oprigting van ´n herleistasie waardeur Schagen sy eie veiligheid kan bedryf.


Fotografiese toerusting bevorder wetstoepassing

Die SAPD Speurdiens in Mpumalanga het aansoek gedoen om die befondsing van digitale kameras vir aanwending op misdaadtonele. 'n Tekort aan geskikte toerusting belemmer die speurdiens se  werk, veral die vaslegging van getuienis op die misdaadtoneel.

 

 

 

 

Die fotografiese toerusting sal gebruik word op misdaadtonele soos by plaasaanvalle waar belangrike getuienis versamel kan word en kan dien as bewysstukke tydens hofverrigtinge. Die toerusting sal ook gebruik kan word vir die identifikasie van gesteelde vee of die fotografering van misdaadtonele waar grusame slagtonele, hakskeenkappings, spore monsters en ander leidrade gefotografeer kan word. Volgens staatsaanklaers sal swaarder strawwe opgelê kan word, indien fotografiese bewysstukke voor die hof gelê kan word.

Veediefstal bly ‘n prioritietsmisdaad in die Mpumalanga provinsie en is een van die redes waarom boere hulle veegetalle verminder. Die Mpumalanga provinsie is ook die provinsie wat die meeste geraak word deur plaasaanvalle. Die fonds het vyf kameras aan die SAPD geskenk.

NOORD-KAAP

Koopmansfontein Boerevereniging: Veiligheidsborde

Die Koopmansfontein Boerevereniging in die Noord-Kaap het veiligheids-waarskuwingsborde in die boerevereniging se gebied aangebring. Verskeie myne is tans in die gebied aktief en daar is gedurig voertuie en vreemde persone wat die gebied binnekom en ‘n veiligheidsrisiko vir die boeregemeenskap inhou. Die doel van die borde is om persone te waarsku dat dit privaat eiendom is en dat betreders vervolg kan word en sodoende word die veiligheidsrisiko vir die boeregemeenskap verlaag.

Volop- en Niekerkshoop Boerevereniging: Roepsein- en plaasnommerstelsel

In die strewe na beter koördinering van veiligheidsaksies op grondvlak, het die Volop- en Niekerkshoop Boereverenigings ´n stel roepseine en plaasnommers ontwikkel waardeur reaksietye in noodsituasies verbeter kan word. Die roepseine en plaasnommers word op die dakke van wonings geverf wat dit maklik sigbaar uit die lug en van die pad af maak. Die Trustfonds het ´n bydrae gemaak tot die aankoop van die verf vir die aanbring van hierdie nommers.

Hopetown Kommando: Radiostelsel

Die Hopetown Kommando bedien die Hopetown en Strydenburg gemeenskappe en beskik oor ‘n aktiewe en goed georganiseerde plaasbeveiligingstelsel. Die gebied is in agt sektore verdeel volgens die verskillende boereverenigings binne die gebied. Elke maand word ‘n Gesamentlike Operasionele Koördineringskomiteevergadering (GOKOK) gehou wat deur elke sektorleier of boerevereniging en ander rolspelers bygewoon word. Die kommando het ‘n dringende behoefte aan ‘n Marnetradio om die betroubare Marnetnetwerk in die gebied te bedien. Kommunikasie tussen boere is goed, maar die kommando kon weens ‘n gebrek aan fondse nie ‘n radio aanskaf om met die gemeenskap te kommunikeer nie. Die kommando beskik nie oor ‘n bevel-en-beheer skakelfunksie nie, wat hulle optrede aan bande lê en reaksietyd word ingeboet. Die Trustfonds het ‘n Bantam MK radio aan die kommando geskenk om hulle kommunikasie-vermoë te verbeter.

Veediefstal-moniteringstelsel

Die Pulnix-stelsel word gebruik in die bekamping van veediefstal in die Noord-Kaap. Die stelsel word op die toegangsroete van misdadigers opgestel en het ‘n reikwydte van tot 300m. Sodra die infrarooi sensor geaktiveer word, word ‘n alarm by die volgende plekke geaktiveer:

  • Per radiosender na die betrokke SAPD-stasie waarna die ondersoekbeampte in kennis gestel word dat die alarm geaktiveer is;

  •  Per radiosender na ‘n handradio of motorradio;

  •  Per selfoon na die ondersoekbeampte.

Die voordeel van die stelsel is dat die SAPD se mannekrag meer effektief aangewend kan word. Veediefstaleenhede hoef nie meer voorlê-dienste te verrig nie, aangesien die toestel die funksie verrig. Verskeie suksesse is reeds in die Noord-Kaap met die toestel behaal waar veediewe aangekeer is. Die toestelle sal die eiendom van die Noord-Kaap Rooivleisprodusente Organisasie (RPO) bly en deur die SAPD se Tegniese Dienste afdeling bedryf word. Gereelde terugvoer oor suksesse met die aanwending van die toestel word aan die RPO tydens hulle veediefstalvergaderings verskaf.

NOORDWES

Groep 20: Multimedia-projektor vir landelike beveiliging 


Groep 20 is geleë in Mafikeng in die Noordwes Provinsie en het agt kommando's met twee AOKOK'e, naamlik Marico en Malopo onder sy beheer. Die opleidingskomponent van Groep 20 is verantwoordelik vir magvoorbereiding en verskeie lesings en voorleggings word gereeld aangebied. Hierdie opleiding word op ´n gereelde basis aan kommando's en ander groepe, insluitend georganiseerde landbou verskaf. Die aanbiedings sluit visuele aanbiedinge in met betrekking tot plaasaanvalle en gevegsaanduidings wat gerig is op voorkomende maatreëls. In die aanbiedings word van foto's en visuele gevegsaanduidings gebruik gemaak om pro-aktiewe wenke deur te gee waardeur daar gepoog word om plaasaanvalle te voorkom. ´n Ander verantwoordelikheid van Groep 20 is die beveiliging van die internasionale grens tussen Suid-Afrika en Botswana  - dit sluit agt grensposte in. Al die grensposte word gebruik om die infiltrasie van kriminele te voorkom. Die Trustfonds het finansiering benodig vir die aankoop van ‘n multimedia projektor wat gebruik sal word in voorleggings oor landelike veiligheid.

Delareyville Kommunikasiesentrum

Die sentrum is op 11 Oktober 2001 in gebruik geneem en bedien die landelike gemeenskap van die Delareyville- en Sannieshof areas. Die sentrum vervul die rol van ‘n vroeë waarskuwingsentrum waar veldbrande, plaasaanvalle en verdagte voertuie gerapporteer kan word en vanwaar boere die SAPD en kommando kan inlig, sodat die nodige stappe geneem word. Voorts funksioneer die sentrum onder die beheer van die Gesamentlike Operasionele Koordineringskomiteevergadering (GOKOK). Die Trustfonds het die volgende toerusting geskenk: ‘n rekenaar; 'n drukker en ‘n 2.7kv noodkragopwekker.


 

 

Tuiste van die Suid-Afrikaanse Boer

 

Soek