Welkom by Agri Noord Kaap.

 

 

Ons

Die Noord-Kaaplandse Landbou-unie was voorheen deel van die ou Kaaplandse Landbou-unie. Op 21 Februarie 1980 het die Kaaplandse Landbou-unie in drie verdeel en het die Noord-Kaaplandse Landbou-unie sy beslag gekry.
Gedurende 1995 het die Unie sy eie identiteit nog verder bevestig met die bekendstelling van n eie logo. Die logo is n tipografiese uitleg met die klem op die afkorting van die Unie se naam. Dit is gekombineer met drie bane wat simbolies die algemene been, bedryfsbeen en koöperatiewe been van die georganiseerde landbou uitbeeld. Die kleure van die bane is ook simbolies en beeld vrugbaarheid (groen), water (blou) en son/positiewe uitreiking (geel) uit. Elke baan eindig in n abstrakte uitbeelding van die elemente.
Binne die raamwerk van georganiseerde landbou in die streek, berus die hoogste gesag by die Kongres van die Unie. Die Uitvoerende Bestuur van die Unie is die hoogste gesag as die Kongres nie in sitting is nie, maar is aan die Kongres verantwoordelik. Die Unie het ook n Aksiekomitee (dagbestuur) wat op n meer gereelde grondslag vergader en wat in hoofsaak verantwoordelik is vir die uitvoering van beleid en besluite wat geneem is.

 

 

 

 

Doelstellings

om met ander sektore saam te werk ter bevordering van n stabiele en gesonde volkshuishouding met volle inagneming van die belange en behoeftes daarvan;
om, waar nodig, die gekoördineerde mening van die bedryf in die streek aan die provinsiale regering, die sentrale regering, Agri SA of enige ander owerheid voor te lê, met hulle saam te werk in sake rakende die welvaart van die landboubedryf met die doel om bestaande probleme op te los en die daarstelling van die nodige wetgewing;
om die landboubesigheidsbeweging te bevorder;
om landbouprodusente in die streek op hoogte te hou van alle sake rakende hul besondere vertakking van die bedryf, hul algemene belange en die landbou binne die algemene raamwerk van die volkshuishouding;
om te ywer vir die stelselmatige ontwikkeling van die landboubedryf insluitend die bewaring van die bodem en die waterbronne van die land, die instandhouding en die verhoging van grondvrugbaarheid en verbeterde produksiemetodes;
om deur gesamentlike optrede te sorg vir die daarstelling van die nodige fasiliteite en dienste vir die landbougemeenskap en vir hierdie doel die landbougemeenskap in die streek te organiseer;
om gedurig daarna te streef om die beste verstandhouding tussen produsente en verbruikers te weeg te bring;
om te ywer vir die ontwikkeling van n gesonde landbou-ekonomie in Suid-Afrika;
om met die oog op die verwesenliking van bogemelde doelstellings :-
sover moontlik, sake in Afrikaans en/of Engels te verrig;
alle sake slegs volgens meriete te behandel;
om alle funksies te verrig wat na die oordeel van die kongres of die Uitvoerende Bestuur betrekking het op, of bevorderlik is vir die verwesenliking van die bogemelde doelstellings of in direkte of indirekte belang van die landboubedryf mag wees;
die doelstellings van die Unie sluit nie winsbejag in nie. Die fondse waaroor hy beskik sal slegs vir die bevordering van sy doelstellings aangewend word.