Die Landboubesigheidskamer
Status
Die Landboubesigheidskamer (LBK) is die oorkoepelende spreekbuis van landbou se sake-ondernemings, naamlik landboukoöperasies en -maatskappye. Die LBK staan dus langs SABEK, die AHI en NAFCOC as sektor-organisasie.
Die LBK se hoofkantoor is in Pretoria gesetel en vorm n kragtige eenheidsfront binne Agri SA waar kommersiële boere se algemene-, bedryfs- en sakebelange binne een nasionale organisasie gekoördineer word.
Met landboubesigheid as fokus is die lidondernemings daarop ingestel om op n volhoubare basis uitmuntende en mededingende insette te bied aan die uitset- en/of insetkant sodat hulle aandeelhouers (hoofsaaklik boere) as gevolg daarvan finansieel suksesvoller kan wees.
Sleutelaspekte sluit onder andere in:
Identifisering, evaluering en ontwikkeling van sakegeleenthede;
Groei in omvang en in netto verdienste as ondernemings;
Aanpassing by veranderende sake-omstandighede.
Verkryging van sakevernuf in n hoogs mededingende mark.
Die missie van die Besigheidskamer is om sy lidondernemings by te staan deur n omgewing en gesindheid te skep waardeur en waarbinne hulle as outonome, vraaggedrewe en lewenskragtige ondernemings in staat gestel word om hul aandeelhouers te ondersteun in die bedryf van hulle gekose kernbesigheid.
Die kernbesigheid van die Besigheidskamer is gesetel in spesifiek die landboubesigheid, dit wil sê die gunstige beïnvloeding van die onderskeie lid-ondernemings en hul aandeelhouers se beleids- en sake-omgewing en die bevordering van hul vermoëns om by veranderings aan te pas en geleenthede te benut.
Met landboubesigheid as die oorkoepelende fokusarea, is die fokus van die Besigheidskamer gerig op alles wat te make het met landboubemarking, landbouverwerking, landboufinansiering, landbouproduksie en -insette, landbougerigte navorsing, tegniese-, ekonomiese- en bestuursvoorligting.
Kritiese prestasie-areas sluit dus in om op nasionale vlak -
n verkenning, bestudering en evaluering van relevante inligtingstukke, wetgewing, dokumente, ensovoorts rakende die beleidsveranderings en geleenthede te maak en te kommunikeer aan sy lede (vroeë waarskuwingstelsel - wat verander, hoe raak dit lede, wat kan daaromtrent gedoen word);
die beïnvloeding van die beleids- en sake-omgewing deur middel van kundige insette tydens gespreksgeleenthede en standpuntstelling, die benutting van alliansies en steunwerwing (met behulp van sy vennote binne die georganiseerde landbou, maar ook eksterne vennote binne Nedlac e.a);
die bevordering, ontwikkeling en koöperatiewe steun aan bedrywe saam met die Nasionale Bedryfskamer;
die bedinging en verbetering van dienstestrukture;
die verlening van steun aan die Agri SA en die georganiseerde landbou as eenheid en hulp met befondsing; en
bystand aan sy lid-strukture om soortgelyke dienste te lewer.
Die Besigheidskamer het landboubesigheid en spesifiek die boer as vertrekpunt. Die goedkeuring van wie lid mag word en die vasstelling van lidmaatskapsgelde berus by die Hoofbestuur.
Lidmaatskap is beperk tot Koöperasies waarvan die eienaars hoofsaaklik boere is en/of wat landbougerigte doelstellings beoefen. Maatskappye waarvan die aandeelhouers hoofsaaklik boere is of waarin n verteenwoordigende of wesenlike getal boere aandele hou.
Kongres
Elke lid (assosiasie) het twee afgevaardigdes in die Kongres en n getal stemme afhangende van die bedrag van lidmaatskapsgeld betaal die voorafgaande boekjaar.
Hoofbestuur
Die Hoofbestuur word op n bepaalde wyse saamgestel en bestaan uit maksimum 15 lede.
Dagbestuur
Die Dagbestuur bestaan uit
die voorsitter deur die Kongres verkies
die onder-voorsitter deur die Hoofbestuur verkies
een verdere lid deur die Hoofbestuur benoem
Totaal 3 lede.
Besonderhede beskikbaar by:
Die Uitvoerende Direkteur
LANDBOUBESIGHEIDSKAMER
Posbus 1508
PRETORIA
Suid-Afrika
0001
Telefoonnommer (012) 322-7181
Faksnommer (012) 320-0787
Internasionale kode 27 12
E-Pos : [email protected]
Primêre landboukoöperasies en -maatskappye
Die 250 plaaslike of primêre landboukoöperasies en -maatskappye is die belangrikste rolspelers in die hantering van landbouprodukte, die verskaffing van produksiemiddele en die verskaffing van verskeie dienste.
Sommige van die ondernemings spesialiseer in beperkte aktiwiteite terwyl ander veeldoelige bedrywighede beoefen.
n Verdere eienskap van die landboubesighede op plaaslike vlak is die ontwikkeling van n stelsel van besigheidspunte. Die uitgestrektheid van Suid-Afrika met sy ekstensiewe boerderypraktyke het grootliks bygedra tot die ontwikkeling van so n handelsnetwerk.
Die rol van die landboubesighede het veral in belangrikheid toegeneem sedert die verdwyning van die destydse bemarkingsrade en die internasionalisering van handel.
Die doelstellings van die landboubesighede met hul 2 000 handelspunte in Suid-Afrika, was nog altyd om die ekonomiese belange van hul onderskeie aandeelhouers ten opsigte van hul boerderyeenhede te bevorder.
Deurdat die landboubesighede gekonsentreer het om die bemarkings- en aankoopsfunksie ten behoewe van die boere te verrig, het dit die boer in staat gestel om op sy plaasbedrywighede te fokus, naamlik om so goedkoop as moontlik te produseer.
Die ekonomiese voordeel wat die boer deur middel van sy koöperasie geniet, maak hom tot n groter mate onafhanklik van ander ekonomiese sektore.
Deur middel van gesamentlike aksies het die boer deelname verkry in die besigheidswêreld. Sodanige deelname het aan hom groter prestige verleen en die gemeenskaplike behoeftes van boere versterk. Veral waar koöperasies ontstaan en ontwikkel het deur hul eie inisiatief, het dit n magtige instrument vir die boere geword.
Belangrikheid vir die regering
Die rol wat landboubesighede speel in die berging en bemarking van landbouprodukte, die kanalisering van finansiële hulp ten tye van rampe asook tegniese en ekonomiese inligting in samewerking met die betrokke regeringsdepartemente, is algemeen bekend en vir die regering van die dag van uiterste belang.
Die dienste gelewer deur landboubesighede ten opsigte van die benutting van natuurlike hulpbronne, die handhawing en verbetering van die grondvrugbaarheid, verbetering van plantmateriaal en teelkuddes, verbeterde veevoeding en -sorg, doeltreffende beheer oor siektes, peste en besmetting is verder uiters belangrik vir die land.
Belangrikheid vir die gemeenskap
Alhoewel landbou gebaseer is op individuele landboubedrywighede, fokus sy ekonomiese aktiwiteite in n groot mate op landelike gemeenskappe.
As uitvloeisel van hul primêre funksies, lewer landboubesighede n groot bydrae tot die ekonomiese bedrywighede in die gebiede waar hulle gesetel is in terme van werkskepping wat weer aanleiding gee tot stimulering van die privaathandel en diensorganisasies.
Opnames toon dat landboubesighede meer as 100 000 werknemers in diens het met n besteebare inkomste van duisende miljoene Rand per jaar. Sodanige syfers is betekenisvol deurdat dit n direkte invloed het op landelike handel en, indien saamgetel met die data van boere en hul werknemers, kan die landbou tereg daarop aanspraak maak dat landboubesighede n uiters belangrike rol speel, veral in die landelike ekonomie.
Op die terrein van die Koöperasiewese in Suid-Afrika is verskeie sake tans onder bespreking, naamlik
die formulering van n koöperatiewe beleid;
die vestiging en uitbouing van die koöperatiewe pogings in ontwikkelende gemeenskappe;
die plek en rol van die Registrateur van Koöperasies;
die ondersteuning aan koöperatiewe pogings;
die betrokkenheid van buitelandse ondersteuningsinstansies;
die herskryf van die Koöperasiewet;
die uitbouing van n oorhoofse struktuur, en
die skakeling met die International Co-operative Alliance en die International Federation of Agricultural Producers.
Op die terrein van landboukoöperasies is daar belangrike verwikkelinge rondom die omskepping van koöperasies in die maatskappyvorm.
Op die terrein van die Besigheidskamer word daar gedagtes gewissel rondom die struktuur, dit wil sê die inkorporering van oorhoofse verskaffingsorganisasies en die hele kwessie van die skepping van n gunstige verbruikersvriendelike omgewing.