Agri Suid-Afrika

Agri Suid-Afrika se aksies is voortdurend daarop gefokus om n gunstige omgewing te skep waarbinne dit moontlik vir die boer as entrepreneur is om finansieel onafhanklik te wees.

'n Sterk verenigde front ...

Die Suid-Afrikaanse boer het oor baie jare die landbou se rol in en bydrae tot die nasionale ekonomie gevestig en uitgebou met bekwaamheid en entrepreneurskap en het in dié proses die land se primêre behoeftes ten opsigte van beskikbaarheid van voldoende voorrade gehalte voedsel en vesel bevredig.

Laasgenoemde en vele ander prestasies kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die feit dat Suid-Afrikaanse boere - om dringende ekonomiese redes - hande moes vat en hul eie belange moes verenig onder die vaandel van Agri SA ten einde deur middel van gesamentlike optrede die bes moontlike ekonomiese, sosio-ekonomiese en sekuriteitspoisie te onderhandel. Agri SA verteenwoordig n sterk verenigde front waar die boer se algemene, bedryfs- en koöperatiewe belange gekoördineer word binne n enkele nasionale organisasie.

Die individuele boer is die lewensaar van georganiseerde landbou.

Die totale struktuur van georganiseerde landbou berus by die boer. Die boer op sy grond en sy betrokkenheid by sy boerevereniging, bedryfsorganisasie en koöperasie syfer deur - via die distriksorganisasie en provinsiale unie - tot by Agri SA op nasionale vlak. Dit bied elke boer die geleentheid vir deelname en behels ook verantwoordelikheid.

Agri SA-grondwet plaas geen rassebeperkings op lidmaatskap nie en 40 000 kommersiële boere asook 45 000 kleinskaalse boere landswyd is ingeskakel by Agri SA via die affiliasie van hul provinsiale unie, bedryfsorganisasie en koöperasie.

Algemene Sake

Die hoogste gesag binne die struktuur van die verenigde landboufront is gesetel in die verteenwoordigend saamgestelde Agri SA-Jaarkongres waar al drie bene van georganiseerde landbou verteenwoordig is. Hier word gesamentlik besluite geneem oor algemene sake, riglyne word neergelê en die President en Vise-president word hier verkies.

Die Algemene Raad wat verteenwoordigend saamgestel word uit die Kongres, provinsiale unies, die koöperasiewese en bedryfsorganisasies, gee voortdurend aandag aan sake van algemene belang vir die boeregemeenskap. Die President, vise-president, LKB-voorsitter en n verteenwoordiger van provinsiale unies en bedryfsorganisasies vorm die Dagbestuur en neem dag-tot-dag besluite binne aanvaarde beleid.

Bedryfsaangeleenthede

Bedryfsaangeleenthede word hanteer deur verskillende soorte bedryfsorganisasies binne hul eie gespesialiseerde strukture. Sake van gemeenskaplike belang word verwys na die Nasionale Bedryfskamer.

Koöperatiewe aangeleenthede

Die hoogste gesag ten opsigte van koöperatiewe aangeleenthede is gesetel in die tweejaarlikse Landboubesigheidskamer se Kongres terwyl die Hoofbestuur omsien na koöperatiewe sake wanneer die Kongres nie in sitting is nie.

Personeel

Op nasionale vlak is die klein en dinamiese personeelkorps ingedeel volgens die drie bene van die organisasie in n Algemene Sake-, Bedryfsake- en Koöperatiewe afdeling onder die algehele leiding van die Unie se dagbestuur. Ondersteuningsdienste word verskaf, soos benodig, aan die drie bene van die organisasie deur die Kundige Ekonomiese, Opleidings- en Openbare Betrekkinge afdelings, onderskeidelik Administratiewe en finansiële personeel verskaf die nodig onderbou om die Unie te laat funksioneer.

Wat doen Agri SA?

Ingevolge sy missie, is Agri SA, as verenigde front op nasionale vlak, daarop ingestel om voortdurend te beding vir die boer se ekonomiese, sosio-ekonomiese en sekuriteitsposisie.

Die onderhandelingsomgewing sluit talle aktiwiteite in en Agri SA bied n wye spektrum dienste aan sy lede. Terreine waar toegevoegde waarde op produkte op nasionale vlak bevorder moet word is omvangryk: Grondbewaring en omgewingsake; grondhervorming; aangeleenthede wat die kleinskaalse boer raak; waterbronne; arbeidswetgewing; gemeenskapsontwikkelinge; opvoeding en opleiding; landelike ontwikkeling; elektrisiteitsvoorsiening; veiligheid; wet en orde; landelike plaaslike ontwikkeling; monetêre beleid; fiskale beleid; finansiering; handelsbeleid; nywerheidsbeleid; landbouvoorligting; bemarking; ekonomiese/finansiële markinligting; insetkoste; vloeibare brandstof; vervoer; siekte- en plaagbeheer en voedselsekuriteit.

Binne hierdie onderhandelingsomgewing het Agri SA n uiters belangrike skakelfunksie met die regering asook ander sektore en groeperings in die nasionale ekonomie. As verteenwoordigende liggaam en nasionale mondstuk van die landbousektor in Suid-Afrika, het Agri SA verteenwoordiging in talle amptelike strukture, internasionale en privaat organisasies.

Agri SA het ook n verpligting teenoor boere om hulle ingelig te hou oor optredes in hul belang, bv. Elke boer wat lid is van n boerevereniging ontvang Agri SA se maandblad " Die Boer / The Farmer." Boere word ook voortdurend ingelig deur radioprogramme op Radiosondergrense en meer as 20 gemeenskapsradiostasies, inligting op Agri24 en persverklarings via meer as 200 mediakontakte landswyd, insluitend die elektroniese media, dagpers, die populêre landboumedia en streekskoerante.

Mediaskakelingsaktiwiteite en strategiese kommunikasie vind plaas op verskeie vlakke ten einde begrip en ondersteuning vir die boer en die landbou te bevorder onder die algemene publiek asook die res van die nasionale ekonomie.

Hoe bevoordeel dit die individuele boer?

Wanneer n balansstaat oor Agri SA se optredes in belang van die boer saamgestel word, moet daar ingedagte gehou word dat Agri SA se rol primêr gemik is op onderhandeling en nie soseer op fisiese oordragte nie.

Agri SA se aksies is voortdurend daarop gefokus om n gunstige omgewing te skep waar dit moontlik is vir die boer as entrepreneur om finansieel onafhanklik te wees.