Nuusbrief

No: 18/2005 - 26 Julie 2005

Die weeklikse Agri SA Nuusbrief word saamgestel uit berigte en brokkies van die Provinsiale-, Bedryfs- en Landboubesigheidskamers. Stuur enige kommentaar aangaande hierdie nuusbrief aan ons. Ons ontvang ook graag nuusbrokkies en belangrike datums (elekronies) ter oorweging vir publikasie vóór Dinsdae 10:00, -

Nuttige nommers

Hulp met vuurwapen lisensiëringsproses vir Agri SA lede skakel 0861 306 306

Vuurwapenhand- en werkboeke beskikbaar by 0860 104 375 teen afslagtariewe vir Agri SA lede

AgriSEB : Wag vir uitsluitsel

Hans van der Merwe, Uitvoerende Direkteur

Tydens die pas afgelope Raadsvergadering van Agri SA is daar deur die Agri SA-verteenwoordigers in die AgriSEB-stuurkomitee volledig verslag gedoen oor die verloop van die proses tot op datum.
Feite is as volg:

Ons wil derhalwe alle boere daarop wys dat daar op hierdie stadium nog geen verdere konsep-handves of sektorspesifiekekode vir kommentaar of vir toepassing beskikbaar is nie. Die enigste telkaart ("scorecard") wat beskikbaar is, is die generiese telkaart wat vir die ekonomie in die algemeen van toepassing sal wees maar wat waarskynlik vir die landbou in die onderhandelingsfase aangepas gaan word.

Agri SA het kennis geneem van instansies wat vir boere kursusse oor n sogenaamde AgriSEB-hansves aanbied, asook oor toepaslike nakomingsverpligtinge. Bovermelde uiteensetting maak dit duidelik dat die proses om n AgriSEB-handves te ontwikkel nog vér van afhandeling is en dat voorligting oor hierdie aangeleentheid voortydig is. Alle belanghebbendes sal deur die kanale van die georganiseerde landbou ingelig word oor vordering asook wanneer finaliteit oor hierdie aangeleentheid bereik is waarna toeligting oor implementerings-verantwoordelikhede vir boere van praktiese waarde kan wees.

Agri SA se Algemene Raad bespreek Grondsake

Annelize Crosby, Parlementêre verteenwoordiger

Resitusie: Daar is terugvoer gegee aan die Raad oor die vergaderings wat in al die provinsies plaasgevind het tussen die Provinsiale Unies en die Streekgrondeisekommissarisse. Oor die algemeen het die vergaderings in goeie gees verloop en is daar ooreengekom op wyses van samewerking en op gereelde vergaderings in die toekoms. 'n Nasionale vergadering sal nou gereël word vir die doeleindes van formele terugvoer en 'n memorandum van samewerking sal tussen Agri SA en die Kommissie op die Herstel van Grondregte geteken word.

'n Kort inligtingstuk oor onteiening in terme van die Restitusiewet, was by die Raad se stukke ingesluit. Die Raad is ook ingelig dat Agri SA met 'n advokaat gesprek gevoer het oor die dreigende onteiening in die Noordwes-Provinsie.

Die Raad is verder ingelig dat Agri SA op 22 Julie met verteenwoordigers van die Instituut van Waardeerders gesprek sou voer oor grondpryse en waardasies.

Grondberaad: Die provinsiale unies in die provinsies waar die sogenaamde "mini-land summits" reeds gehou was, het terugvoer daaroor gegee. Sommige van die berade was swak georganiseer. Agri SA se affiliasies het ook nie oral spreekbeurte gekry nie. Radikale stellings is tydens die berade gemaak soos dat die vrywillige koper-verkoper beginsel nie werk nie en van afstand gedoen moet word, dat grondpryse te hoog is, dat daar 'n grondbelasting ingestel moet word om pryse af te

bring en die groottes van plase te beperk en dat die eise-proses weer heropen moet word.

Twintig afgevaardigdes van Agri SA sal die nasionale beraad van 27 tot 31Julie te NASREC bywoon. 'n Klein komitee is aangewys om Agri SA se inset vir die beraad voor te berei.

Modderklip: Die Raad het terugvoering gekry oor die uitspraak van die Konstitusionele Hof in die opspraakwekkende Modderklip-saak. Na afloop van die Raadsvergadering het Agri SA se prokureur in die persoon van Mnr Gordon Hay van MacRobert die Raad en pers toegespreek oor die belang van die uitspraak en Agri SA se rol daarin. Die Raad is ook ingelig dat sekere wysigings aan die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsetting en die Onregmatige Besetting van Grond aangebring sal word en dat Agri SA insette in die verband sal lewer.

Boerontwikkeling

Nic Opperman, Direkteur: Natuurlike Hulpbronne

Agri SA het verlede week aan die Algemene Raad gerapporteer dat die finale stadium van onderhandelinge tussen die organisasie en NAFU bereik is, wat ten doel het om die omskakeling van AgriDev na die voorgestelde "Farmer Development Trust" (FDT) af te handel. Kleinere verstellings moet nog aan die besigheidsplan van die FDT en memorandum van verstandhouding tussen die twee organisasies aangebring word.

Onderhandelinge met die Foundation for Farmer Development (FFD) dui daarop dat die organisasie van voorneme is om te ontbind. Die proses word hanteer by die organisasie se algemene jaarvergadering wat aan die einde van Augustus plaasvind. Laasgenoemde vereenselwig hulle met die oogmerke van die FDT soos vervat in die nuwe besigheidsplan. Die voortsetting van die organisasie se aktiwiteite sal net onnodige duplisering met die te stigde FDT tot gevolg hê. Dit bring mee dat breë konsensus nou oor die voorgestelde FDT tussen die hoofrolspelers bereik is. Agri SA en NAFU het ook 'n gesamentlik gesprek aangevra met die Direkteur-generaal van die Departement van Landbou en Grondsake om die FDT-ontwikkeling te bespreek, en raakvlakke te identifiseer.

Die Algemene Raad het sy verteenwoordigers in die FDT aangewys. Hulle is, Walter Ntuli voorsitter van die funksionele komitee vir boerontwikkeling, Gert Pretorius verteenwoordiger van bedryfsorganisasies en Piet Luttig verteenwoordiger van koöperasies/agri besighede. NAFU se verteenwoordigers in die FDT-Raad word afgewag. Die FDT se bestuur sal voortgesit word in die FFD se huidige ondernemingsvorm, 'n artikel 21 Maatskappy, welke akte van oprigting aangepas sal word om die FDT se doelwitte te ondervang. Die omskakeling sal gelyktydig op 31 Augustus 2005 plaasvind, met die ontbinding van die FFD en die stigting van die FDT.

Nasionale Rampbestuursraamwerk en implementeringstrategieë

Martina Benadé (Ekonomie & Handel)

n Tweedaagse werkswinkel wat gehandel het oor rampbestuur is op die 19 en 20 Julie 2005 by die Landbou Navorsingsraad se konferensiesentrum te Pretoria gehou. Die doel van hierdie werkswinkel was om afgevaardigdes uit alle sektore te betrek by rampbestuur. Dag 1 van die werkwinkel het gehandel oor die Nasionale Rampbestuursraamwerk. Tydens dag 2 is die implementeringstrategie van die Rampbestuurswet hanteer. Die volgende sake en verwagtinge van afgevaardigdes is tydens die werkswinkel hanteer:

Agri SA het hierdie werkswinkel bygewoon met die oog op die vestiging van n rampbestuurstelstel vir landbou in samewerking met die Nasionale Departement van Landbou. Verdere werk sal nou gedoen moet word om te bepaal wat die vlak van die privaatsektor se betrokkenheid in hierdie proses moet wees.

Veldopnames oor wintergraan in Augustus in die Vrystaat en Noord-Kaap

Graanprodusente in die Vrystaat en Noord-Kaap sal in Augustus genader word vir inligting oor hul verwagte wintergraanproduksie. Die Nasionale Departement van Landbou se jaarlikse oesskattingsprojek vir wintergraangewasse begin 3 Augustus in dié provinsies wanneer veldwerkers

graanboere op hul plase sal besoek. Produsente in die Wes-Kaap sal telefonies gekontak word vir inligting. Addisioneel tot die graanopname sal veldwerkers ook n opname van lewendehawe in die Vrystaat doen.

Die oesskattingsprojek word deur die Departement se Oesskattingskomitee gedoen om landbou-rolspelers n vroeë aanduiding te gee van die verwagte produksie van wintergraangewasse.

Veldwerkers sal tot middel Augustus verskeie plase in die Vrystaat en Noord-Kaap, wat lukraak gekies is, besoek om inligting in te samel oor aangeplante oppervlaktes en verwagte opbrengste. Die span veldwerkers, waarvan die meeste self produsente is, het opleiding ontvang om die oesskattings te doen en sal saam met die boer n vraelys voltooi.

Die oesskattingsprojek wat in Augustus afskop is een van die metodes wat die Oesskattingskomitee gebruik om inligting oor aanplantings en produksie in te samel. Die oesskattingsyfers wat maandeliks bekend gemaak word, word gebaseer op inligting verkry deur die fisiese en telefoniese opnames van die veldwerkers, asook inligting voorsien deur die LNR-Institute, verteenwoordigers van die provinsiale Departemente van Landbou, die Meulenaarskamer, eienaars van graansilos en sowat 2 200 produsente-medewerkers.

Vir meer inligting, kontak Rodney Dredge, Faith Hawkins of Rona Beukes: tel (012) 319-8453/8036/8032; faks (012) 319-8031; e-pos: , of .

Agri TV

Annelu Eksteen

Maandag tot Vrydag kwart voor ses op SABC 2, met 'n heruitsending van die hele week se episodes, Sondagmiddae eenuur op SABC Africa.

Lekker boer!